Goeie dag Theunis van Staden hier.
Ek wil vir jou so bietjie vertel van ‘n wonderlike initiatief waarby ek al ‘n geruime tyd betrokke is. Dit is die Herdenkingsritte.
Die Herdenkingsritte is ‘n groep ruiters wat te perd by al ons erfenisgebiede en monumente aangaan om bewusmaking te kweek vir dit wat ons ouers vir ons nagelaat het.
Die projek kom al van 2012 af toe drie vriende op hulle perde geklim het en van Pretoria af nagenoeg 500km te perd afgelê het na Bloedrivier toe. In 2013 het ‘n groter groep ruiters van Sterkfontein dam af gery om Danie Langner se boek Trekkerkinders se bekendstelling by te woon. 2015 Het die groep weer die langpad van Pretoria af aangepak, maar hierdie keer met vyf ruiters en oor ‘n afstand van langer as 600km na Bloemfontein. 2017 Het die ruiters geloftefees bygewoon by die Voortrekkermonument in Pretoria nadat hulle van die Uniegeboue af vertrek het en Januarie 2018 ry hulle van die Voortrekkermonument af na Fort Klapperkop om die 120 jaar vieringe by te woon.
Nou is dit weer tyd vir die volgende rit, ‘n lang ene, van Bloemfontein Vrouemonument af na Kimberley toe, oor noemenswaardige erfenisterreine soos Perdeberg, Jacobsdal en Magersfontein. Die groep van ses ruiters sal hierdie nagenoeg 226km aflê oor nege dae van 23 Junie 2018 tot 1 Julie 2019. Wie weet dalk is daar nog ‘n verrassing by die Vrouemonument as die ruiters wegtrek op 23 Junie? Hou gerus die media dop.
In hierdie afgelope ses jaar het die ruiters minstens 26 monumente en erfenisterreine te perd besoek en nagenoeg 1500km afgelê om dit te kon doen. Onder hierdie monumente val Die Voortrekkermonument in Pretoria, Die Vrouemonument in Bloemfontein en Die Paardekraal monument in Krugersdorp om maar net van die vernaamstes te noem. Daar is nog baie hoefslae om te hoor, plekke om te sien en dinge om van te leer.
Ondersteun asseblief hierdie initiatief, dit is vir ‘n goeie saak. So as jy dink ons erfenis is belangrik en wil hê dit moet vir ons kinders behoue bly of blootweg net van perde hou, ek weet ek doen, dan sal jy nie terleurgesteld staan nie. Help ons om ons erfenis vir ons kinders behoue te laat bly.
Volg die rit op Facebook @herdenkingsritte of besoek die webbladsy by herdenkingsritte.wordpress.com
“Uit die stof aan ons Hoewe ontsteek die vonk van ons Herkoms, Uit die ink van ons vere vlam die Trots van ons Toekoms…” (Ons leuse)